Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 30 JUNIE 2013

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika. Die SARL saai elke Sondag om 08:15 SAT 'n nuusbulletin in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uit. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio deur Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTEL

Die radioamateurgemeenskap in die Wes-Kaap is hartseer om die heengaan van 'n groot naam in die amateurradiogeledere, Ben Bennett, ZS1AAQ, op die ouderdom van 92 aan te kondig.
Gebore in die Verenigde Koninkryk en opgelei as 'n radio-ingenieur, het hy in die Geallieerde gewapende magte tydens die Tweede Wereldoorlog gedien, voor die aanvang van 'n loopbaan in klank en TV ingenieurswese. Hy het in die Verenigde Koninkryk, Australië, die destydse Rhodesië en uiteindelik in Suid-Afrika gewerk, waar sy statuur as 'n hoë standaard sender- en versterkerbouer gegroei het asook sy reputasie as vaardige GG operateur en storieverteller. Onder sy ander self aangeleerde talente was sy goeie oor vir musiek asook sy vermoë as klavierspeler en klavierstemmer. In sy laaste jare, het swak gesondheid 'n einde aan hierdie vermoëns gebring en hy het rustig in Durbanville gebly tot sy vreedsame heengaan op 24 Junie. Hy word oorleef deur 3 kinders, een elk in Amerika, Engeland en Australië.

Mag die skaduwee van hierdie reus van 'n radio-amateur nooit taan nie.

IN DIE NUUS VANDAG:
JOU VIDEO OOR AMATEURRADIO KAN GROOT PRYSE WEN
RADIO TEGNOLOGIE IN AKSIE OP KOERS NA PE
G4HYG STEL NUWE APRS BOODSKAP TOEP VIR ANDROID BEKEND
HISTORIKUS VIR DIE SARL GESOEK

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante items.
JOU VIDEO OOR AMATEURRADIO KAN GROOT PRYSE WEN

Die Suid-Afrikaanse “Amateur Radio Development Trust” nooi amateur videograwe uit om deel te neem aan 'n videokompetisie en so vir 'n paar groot pryse in aanmerking te kom. Wees kreatief met jou kamera of selfs jou slimfoon. Skiet 'n kort video van 'n opwindende Amateurradio-aktiwiteit in Suid-Afrika en wen 'n 5watt GG MFJ 40 meter stel ter waarde van R1300, of een van die vele ander pryse, die lys groei daagliks. Die videoformaat kan AVI, WMV of MPEG wees met 'n minimum resolusie van 320 x 240. Die lengte van die video behoort tussen 3 en 5 minute wees. Die onderwerp kan oor enigiets handel wat die vreugde en opwinding van amateurradio illustreer.

Inskrywings moet op 'n CD of DVD, en nie per e-pos nie, ingestuur word. Stuur jou video na: Amateurradio Videokompetisie, Posbus 90438, Garsfontein, 0042. Die sluitingsdatum is 31 Desember 2013. Die wenners sal vroeg in 2014 aangekondig word.

Vir meer besonderhede en die reëls besoek www.amateurradio.org.za

RADIO TEGNOLOGIE IN AKSIE OP KOERS NA PE

Die eerste van die 2013 SARL Radio Tegnologie in Aksie simposiums word in Port Elizabeth op Saterdag 27 Julie by die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit in samewerking met die Port Elizabeth Amateur Radio Society aangebied. 'n Aksiebelaaide program sluit aanbiedings en demonstrasies van belang vir alle radio amateurs en radio-entoesiaste in. Leer hoe om jou HF of VHF sender per afstandbeheer te bedryf en kyk hoe Riaan Greeff, ZS4PR, HF kontakte met behulp van 'n sender geleë by die Nasionale Amateurradiosentrum in Johannesburg en nog een in die VSA maak.

Bou 'n VFO vir die SDR boustel soos by verlede jaar se RTA gedemonstreer met boustel beskikbaar by vanjaar se byeenkoms deur Frik Wolff, ZS6FZ. Vince Harrison, ZS6 BTY, sal meer inligting gee oor hoe antennahoogtes en hoeke van bestraling jou HF bedryfstelsel kan verbeter. Jy sal ook meer kan uitvind oor die gebruik van 'n digitale multimeter in jou huis en ingelig word oor 5MHz werking.

'N CD met al die aanbiedings en baie ander nuttige items sal beskikbaar wees. Die SARL het ook 'n ooreenkoms met Corell-I aangegaan om 'n hoë standaard multimeter teen 'n baie spesiale prys aan RTA afgevaardigdes beskikbaar te stel.

Daar is baie bywoningspryse te wen. Kry al die besonderhede op www.sarl.org.za en klik op Radio Tegnologie in Aksie om voor 19 Julie 2013 ‘n bespreking te maak. Die stel, CD en multimeter, is slegs met vooruitbesprekings beskikbaar en sal aan afgevaardigdes by die geleentheid gelewer word.

G4HYG STEL NUWE APRS BOODSKAP TOEP VIR ANDROID BEKEND

Chris Moulding, G4HYG, berig dat hy pas 'n nuwe APRS toep vir Android selfone en tablette vrygestel het. Dit stel radioamateurs in staat om APRS posisiebakens en boodskappe van 'n Android-toegeruste selfoon of tablet via 'n 3G of Wi-Fi skakel na die APRS-IS internet-stelsel te kan stuur. Dit kan ook deur Bluetooth aan die nuwe Bluetooth weergawe van die APRS TNC Digi Tracker verbind. G4HYG wys daarop dat daar 'n klein heffing betaalbaar is om die ontwikkelingshulpmiddellisensie fooi te help dek. Meer inligting op die web by tinyurl.com/APRS-Android-app.

LIGANUUS

SARL LEDEGELD NOU BETAALBAAR
Dit is die tyd van die jaar wat SARL-ledegeld betaalbaar is. Lede ontvang 'n faktuur in die pos. Byna 700 lede het reeds hernu, maar as jy dit nog nie gedoen het nie, doen dit asseblief hierdie week. Lede kry soveel waarde vir die klein bedrag wat hulle betaal en die SARL het die betaling selfs makliker gemaak deur aan lede 'n opsie gee om die fooi in 'n paar paaiemente te betaal. Alle inligting is op die faktuur.
As jy nog nie 'n lid is nie, is dit nou 'n goeie tyd om aan te sluit. Bel Mariska Maandag by 011 675 2393 vir die besonderhede of sluit aan by www.sarl.org.za. Jou lidmaatskap bied, gratis QSL-buro, 6 uitgawes van Radio ZS, gratis toegang tot 472 kHz en twee frekwensies in die 5 MHz-band, vier groot simposiums in Kaapstad, Durban, Port Elizabeth en Johannesburg teen afslag pryse plus baie ander aktiwiteite.
Op Donderdag 27 Junie was daar reeds 686 lede wat hernu het. Moenie versuim nie, hernu u lidmaatskap nou.

HISTORIKUS VIR DIE SARL GESOEK

Die SARL bestaan nou al byna 'n eeu en baie min mense wat die vroeë dae onthou leef nog.
Van tyd tot tyd, is interessante materiaal uit die vroeë dae onder die aandag van die Raad gebring. Daar is seker baie lede steeds in besit van sulke historiese materiaal, miskien van familielede of ouer stil sleutel amateurvriende geërf.

Hoewel die Raad die waarde van sodanige materiaal besef, en dit wil bewaar vir toekomstige geslagte, is daar op die oomblik, niemand beskikbaar is om dit te doen. Daar is nie 'n raadsaanstelling vir die werk, geen stelsel en geen argief of museum nie. Waardevolle materiaal gaan verlore, want daar is geen sistematiese manier om te versamel en te bewaar nie.

Die SARL Raad vra vir 'n vrywilliger of vrywilligers wat hierdie funksie vir die die liga kan vervul. As jy belangstel, stuur 'n e-pos aan die Sekretaris (secretary@sarl.org.za) of aan die President (rassie@snowisp.co.za) sodat 'n SARL-raadslid jou kan kontak. As jy van 'n lid wat dalk bereid wees om dit te doen weet, stuur sy naam aan die Sekretaris, wat hom sal nader.

Dit is 'n baie wesentlike behoefte - moet asseblief nie huiwer om te help nie.

KOMPETISIENUUS

UITSLAE VAN DIE ZS4 NAELLOOP
Die uitslae van die ZS4 naelloop op Sondag 9 Junie is vrygestel. Die komitee het een en twintig logstate ontvang waarvan veertien vanuit die ZS4 roepgebied gekom het.

1ste Jan Botha, ZS4JAN, 131 punte
2de Frans Marais, ZS4FM, 102 punte
3de Welkom Radioklub, ZS4WRC, 98 punte
4de Bloemfontein ARK, ZS4BFN, 91 punte

Frans, ZS4FM, wen die ARRL boek "Small Antennas for Small Spaces' omdat hy die lid met die hoogste telling van die Bloemfontein ARK is. Baie geluk aan Jan en Frans. Die volledige uitslae is in HF Happenings 562 gepubliseer.

IARU HF-KAMPIOENSKAP
Die IARU HF-kampioenskap sal op die lug wees van 00:00 UTC Saterdag 13 tot 12:00 Sondag 14 Julie met GG en foonaktiwiteit op 160, 80, 40, 20, 15 en 10 meter. 'n RS of RST verslag en u ITU Sone word uitgeruil, vir Suid-Afrika is dit Sone 57. IARU lidvereniging HK stasies sal 'n RS of RST verslag en Verenigingafkorting uitruil, terwyl IARU amptenare AC, R1, R2 of R3 sal uitruil.
Geoff, ZS6GRL, is nog steeds op soek na operateurs vir ZS9HQ. U hoef nie in die Johannesburg gebied te wees nie. Kontak Geoff by contest@sarl.org.za of 082 546 5546

SARL WINTER QRP-KOMPETISIE
Die SARL Winter QRP-kompetisie sal op Saterdag 20 Julie gehou word en begin om 12:00 UTC en eindig om 15:00 UTC. Tuis of veldstasies word aangemoedig om deel te neem met ESB, GG of gemeng (ESB en GG) met 5 watt (PEP) uitset of minder. 'n Stasie kan een keer per modus gekontak word. Die eerste uur is beperk tot die 40 m-band, tydens die oorblywende twee uur kan deelneemers enige HF (nie-WARC) band te gebruik soos wat hulle goeddink.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die verwagte sonaktiwiteitsvlak laag gaan wees. Daar is 'n moontlikheid van C-klas fakkels en 'n geringe kans vir 'n M-klas gebeurtenis.

Vir diegene wat hulle eie frekwensie voorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 50.
Amateurs gaan al die DX-bande van 20 tot 10 m geniet met 20 m wat die beste openinge gaan oplewer terwyl die 15 m net 'n kortkop agter behoort te wees. 10 m openinge kan van tyd-tot-tyd oor Oos-Wes daglig paaie voorkom.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

1 Julie - QSO-geselligheid logstate moet ingedien wees.
13-14 Julie – IARU HF kampioenskappe
19 Julie – Sluitingsdatum vir inskrywings RTA in Port Elizabeth
20 Julie – SARL Winter QRP Kompetisie
27 Julie – RTA in Port Elizabeth
3 - 4 Augustus - Hamnet Winteruitdaaging

SARL-nuus nooi klubs en individue uit om nuusbrokkies van belang vir radioamateurs en kortgolfluisteraars in te dien. Plaas nuusberigte - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u om elke Sondagoggend om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-omgewing te luister na "Amateur Radio Today". Daar is herleidings op 7 082, 7 205 en 17 660 kHz en ook 'n potgooi deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op "Amateur Radio Today", gaan na die groen kolom en klik op 'Listen on the web'. 'n Heruitsending vind op Maandae om 16:30 UTC op 3 230 kHz plaas. Op die webwerf verskyn ook besonderhede aangaande verskeie ander heruitsendings. Ontvangsrapporte, kommentaar en voorstelle sal waardeer word. Stuur e-pos aan artoday@sarl.org.za.

Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga met vetalings deur Richard Peer,
ZS6UK, saamgestel en geredigeer deur Louis Kirstein, ZS1LK.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003